Die stook van Withond
  • Graaff-Reinet

Last Updated: March 2015

Go Back

About Die stook van Withond

Die Stook van Withond, Graaff-Reinet geskiedenis
Die Stook van Withond
Die Stook van Withond, Graaff-Reinet geskiedenis

Die stook van Withond
deur Mnr J P van Zijl

Oor die stook van withond (brandewyn) op Graaff-Reinet in vervloë dae word wyd bespiegel en geromantiseer. Oor min plaaslike aktiwiteite van weleer word soveel aannames gemaak. Dat dit ‘n betekenisvolle tydperk in die bestaan van die erfhouers was, lei geen twyfel nie, maar die vermoede dat elke tuinier wes van Cradockstraat lustig meegedoen het aan die stook, wettig of onwettig, van withond, is eenvoudig nie waar nie.

Langs Plasketstraat af was daar aan die bopunt Hendrik, en later Roelf (Withuis) Jansen wie se erf op sy beurt deur Kerneels Erasmus oorgeneem is. Dan was daar Dirk Olivier, waar Arthur Kingwill House vandag staan, wat later getrek het na waar Op-die-Oewer vandag is, en Doors Els wat in die vyftigerjare nog sy woonreg uitgehou het net langs die Hoër Volkskool se musiekkamers. Verder suid het Krisjan (Christiaan Laurentz) Olivier en langs hom Izak Muller (pa van Gieter), regoor waar Middelstraat doodloop teen Volkskool se sportgrond gewoon. Hierdie eienaars het almal grond besit wat voordeel getrek het uit die dubbelstroom water wat in Plasketstraat afgeloop het. Dit was hierdie gronde wat Andries Stockenström (junior) eens op ‘n tyd besit het, toe hy die water van die dorp verdeel het, ‘n dubbele leistroom toegeken het.

Plasketstraters

Meeste van hierdie Plasketstraters se grond is met verloop van tyd deur die Departement van Onderwys opgekoop om Union High en Hoër Volkskool te huisves.

In Donkinstraat, heel aan die suidpunt, was Boeta Olivier en verder op Willem Steynberg, Piet Dames (No. 64 waar Johan Lombard tans woon) en no. 41 (Pik Schoeman), waar Dappies van Heerden gestook het. Dan was daar ook Hendrik Olivier op die hoek van Donkin- en Middelstraat waar Johnny Nel tans woon. Freek Nel, OP Donkinstraat no. 63, was deel van hierdie geëerde geselskap.

Al hierdie stokers het ‘n heel paar meer gellings gestook as die 32 wat hulle volgens hul lisensie kon produseer. Menige stoker het sy oortollige voggies weggesteek in houers wat die troetelnaam van “alfààmpie” gedra het. Hierdie vloeistofmaat was die hàlfaam (Engels half aum) van 30 gellings (136 liter in vandag se taal). Min van hierdie stokers is ooit deur die gereg met onwettige stokery betrap. Mnr Eric Olivier van Ventana verseker my dit was eintlik net Withuis Jansen, Piet Dames, Dappies van Heerden en Andrew Fick wat ooit aan die pen gery het. Phillip (Flippie) Hechter (pa van Adam Hechter), bekend vir sy heerlike likeurs, is volgens Adam net een keer beboet met £50. Maar hy was onskuldig, want sy huishulp het blykbaar deur die venster verkoop toe Flippie in die hospital was.

Befaamd

Hierdie Flippie Hechter was ‘n befaamde besoeker aan die landdroshof waar hy elke dag se sitting met ‘n keurige blom op sy lapel bygewoon het. Hy het dikwels hofuitsprake vooruit voorspel weens sy intieme kennis van die strafreg. Landdros Honey het, volgens oorlewering, eendag toe oom Flippie siek was,

die hof verdaag en nie aangegaan voordat oom Flippie kon teenwoordig wees nie. Toe oom Flippie oorlede is, het die landsvlag voor die landdroshof halfmas gewapper. Seker sonderling in die geskiedenis van ‘n staatsgebou!

Brandewyn was goedkoop: ‘n halfkroon (25c) per bottel, 5c per sopie. En dit was natuurlik Tielman Roos-sopies en nie die 25ml van vandag se kroeë nie. Was jy ‘n stoker, het jy openlik uit jou huis verkoop, of dit vervoer na afsetpunte waarvan Bergstraat (vandag Murraystraat) ‘n gewilde was. So het een ondernemende gees met ‘n bottel in elke hand openlik in Caledonstraat afgery op sy fiets. Hy het egter ‘n paraffien-deurweekte stukkie bruinpapier onder elke prop ingedruk en sodoende almal wat die borrelende wit vloeistof in die skuddende bottels gesien het, onder die indruk gebring dat hy paraffien vervoer. Indien jy meer as die toegelate 32 gelling (145 liter) stook, moes jy daarop aksyns betaal. In die notule van die Graaff-Reinetse Men’s Club van vroeg in die jaar 1888 staan opgeteken: “ordered from Izak Booysen a half aum of Boer brandy £4-10-0.” Dus vir R9 het die Klub ongeveer 181 bottels brandewyn gekoop!

Probleem

Om die onwettige drank te berg, was ‘n problem. Enige denkbare houers, van bottels to karba’s, is gebruik. Dit is dan versteek tussen druiwestokke, ondergronds, agter lusern bale, onder kombuis-linoleums en in die putte van buite-latrines. Withond is dikwels verruil vir beeste en skape, en

Bethesdaboere was bra afgunstig op hul eweknieë in die Camdeboo wat druiwe kon produseer en stook, terwyl dit vir hulle in die koue Sneeuberge nie beskore was nie. Eersgenoemde moes dus hul doppie by medeboere van die Camdeboo koop.

Dit was die aksynsoffisier se werk om die proefgehalte te toets en vas te stel. Vir baie jare was dit gedoen deur SAP-lid Cornelius Johan Bouwer. Om mense te betrap wat onwettig stook, het die lokvink dikwels ’n spons in sy mond gesit, ’n sopie met ’n gemerkte sikspens (5c-stuk) gekoop, die sponsie goed in sy mond deurweek en dit alles kom uitspoeg buite die erf om dit te toets. Was alles nie pluis met die gehalte nie, of was dit deel van ’n onwettige kwota, slaan die speurders toe. Elke stoker het natuurlik sy eie bende “alarmmakers” , bekend as “squads” gehad. Hulle moes vroegtydig waarsku as die gereg gereed was om toe te slaan.

Parsproses

Die parsproses was ietwat anders as in die Boland. Of daar ooit met die voete getrap is, is te betwyfel. Almal het maar die parsmasjien gebruik. Jy dompel alles -- druiwe, stengels, blare -- in die parsmasjien wat jy bo-oor jou halwe balie plaas en waarmee jy die sap uit die korrels pers. Word die halwe balie vol, lig jy die parsmasjien op en verskuif dit na ’n leë balie. Dan word die balie met sap en selfs hier en daar ’n dop, in ’n sementkuip gegooi, Roelf Jansen was van die min mense wat van houtkuipe gebruik gemaak het – die res het hulle

verlaat op sementtenks. Hierdie kuipe het gestaan in wat bekend was as die moskamer. Hier gis die mengsel dan vir vier tot vyf dae. Van witwyn maak was daar

geen sprake nie; daarvoor was die hanepoot seker ongeskik. Roelf het wel van sy muskadel rooiwyn gemaak, maar nie in grootmaat nie.

Wat baie huisgesinne met wingerd wel gemaak het, was “Jodewyn.” Met 5½ kg suiker op elf liter sap het jy dit mettertyd, deur dit pligsgetrou elke dag te roer, die heerlikste kopseerwyn gehad. Jy seël jou vate, maar lei ’n klein pypie bo uit die vat na ’n bottel vol water. Solank daar borreltjies in die bottel water “prut”, weet jy jou mengsel gis nog. Later suiwer jy die vloeistof deur dit deur ’n kaasdoek te filtreer om van alle “onsuiwerhede” ontslae te raak. Siedaar! soetwyn vir huisgebruik.

As daar probleme met jou mos in die kuipe ontstaan, of as daar geen gisting na vyf dae geskied nie, is dit stookketel toe met die mengsel. Onder die ketel verbrand jy dik mimosastompe om egalige hitte te verkry. Sommige stokers het die wit brandewyn uit die stookketel se kondensasiepypie op ’n koejawelblaar laat drup, en as die blaar bruin word, was die mengsel glo “reg” teen 44% proef. Die wetenskaplikheid hiervan word sterk betwyfel.

Skelm Stook

As jy skelm stook, moet jy ook te alle tye ingelig wees aangaande moontlike inspeksies; daarom, behalwe vir jou “squads”, het jy ook spioene en informante nodig. Twee sulke informante was Timod en Koos Rooibaard. Hulle het ook dikwels die stokers gewaarsku as daar ’n nuwe speurder op die dorp grondvat en wanneer hy kom “huisbesoek” doen. Die polisie het soms ook stelling ingeneem op de randjies agter Volkskool en Union High se huidige skoolgronde vanwaar hulle die vermeende stokers kon bespied. Hul bewegings is daarenteen weer fyn deur verkykers vanuit die tuine oos van die rivier dopgehou sodat die verskyning van die gereg nooit eintlik vir die stokers ’n verrassing was nie. Gelukkig was dit nog voor die dae van handradio’s.

Die onkundiges en oningeligtes is soms lekker uitgevang met hul eerste kennismaking met withond. Kla jy dat die brandewyn darem te sterk is of te rou op jou tong, was vroulief gou by om ’n glasbeker of kraffie “water” aan te bied om die brandewyn kwansuis te verwater. In die glashouer was natuurlik nooit water nie, maar skoon withond wat jou dop net sterker en méér gemaak het. Die geval van hoe die boete-inspekteur Wolmarans Lubbe Diedericks hiermee uitgevang is, word deur baie van die ou inwoners met smaak vertel. Hy was na die ondervinding te hoenderkop om die trappe van sy perdekar te vind om die kar te bestyg vir sy rit huis toe ...

Agterstraters

Word daar iets oor die sogenaamde “agterstraters” opgeteken, onder wie die stokers was, is dit meermale neerhalend of negatief. Tog het hierdie mense gereeld die heerlikste vars groente en vrugte aan die dorp gelewer. Tot in die sestigerjare van hierdie eeu is hulle smouswaentjies gereeld in die strate van Graaff-Reinet opgemerk. Sommige van die tuiniers se kinders het sosiaal geklim en hoog op die suksesleer beland. Martin Swanepoel, byvoorbeeld, het Dr Verwoerd se privaat sekretaris geword. Hy het jare op die hoek van Jansen- en Donkinstraat gewoon. Krisjan Olivier was ’n merkwaardige vader wie se

kinders op verskillende terreine presteer het. Een seun was ’n vooraanstaande predikant in die Boland; ’n ander was die Stellenbosch, W.P. en Springbok rugbyspeler J S (Fien) Olivier wat Theo Pauw se span na Australië en Nieu Seeland gehaal het. Daar was ander baie begaafde rugby spelers soos Karnallie Marais, John van der Merwe, Eric Olivier, Gieter Muller, en ander. Daar was selfs een van hierdie buurt se seuns wat ons in ’n oorsese ambassade verteenwoordig het.

Tog jammer dat daar nie meer van hierdie era se mense opgeteken is nie.

Withond word steeds gemaak by Reinethuis vir toerisme doeleinders en kan daar gekoop word.

© Graaff Reinet Tourism - 2019 | Links | List / Manage Your Business | Die stook van Withond

Website Design and Search Engine Optimisation (SEO) by ZAWebs Designs | Web Hosting by ZAWebs Hosting